Haar naam is Tannie Juliette van Rooyen of soos die inwoners en personneel van die Gert Greeff Tehuis hier in Willowmore haar noem, sommer net Tannie Joy.
Nouja, soos dit enige dame betaam was daar nie ’n manier waarop ek sou kon uitvind hoe oud tannie Joy is nie en ek wou ook nou nie aanhou neul nie tenspyte van die feit dat, vir ’n vlugtige oomblikkie, die uitdaging om haar ouderdom te probeer ‘uitrafel’ sterk getorring het aan my. Maar ’n man moet weet wanneer dit tyd raak om maar handoek in te gooi want waag jy om te raai en dis aan die verkeerde kant dan eindig die gesprek net daar en dan.
Tannie Joy is gebore in Willowmore en haar kleinkinders sal seker sê jaaa… dit was lank lank gelede.
Haar hoërskool dae was op die Hoërskool Môrester in Oudtshoorn waar sy matriekuleer en dan aangaan na wat destyds bekenk gestaan het as die OKSK. Ek vra toe vir haar, nou wat is OKSK en sy sê vir my, ‘net dit - OKSK’ en daarmee moes ek tevrede wees. Ek leer toe nou, soos almal van ons maar op die internet, dat dit staan vir die Onderwyskollege Suid-Kaapland.
Daarna gaan werk sy as laerskool onderwyseres in Tulbach waar op Maandag 29 September 1969 ’n aardbewing wat 6.3 op die Richterskaal meet die dorp skud soos mens die stof uit die voordeur se matjie uitskud. En net daar besluit Juffroiu Juliette van Rooyen oftewel dalk nog op daardie stadium juffrou Roman, wat haar nooiensvan was, dat sy klaar is met Tulbach. G’n mens kan bly in ’n plek waar aardbewings vir jou lê en wag nie. Toe staan haar koers Kaapstad toe waar sy verder onderwys gee.
In die 80’er jare begin die onluste in die Kaap en dis weer tyd vir tannie Joy om voorraad op te neem. Sy is niks lus vir die gespring en geskreeu nie en net daar bedank sy uit die onderwys en verkoop toe ook later van tyd haar huis in Mitchellsplein om so by haar suster in Willowmore te kom woon. Kyk, dit lyk so hoeka vir my dat as jy van Willowmore se water ingekry het saam met jou Cow & Gate van toentertyd dan bring dit jou maar weer terug na die einste Willowmore toe.
En dis toe ook net hier in die gesprek waar die “onthou-jy’s” begin. Sy onthou dat tydens haar kinderjare in Willowmore het meeste van die besighede aan die Joodse gemeenskap in die dorp behoort en hoe goed hulle vir die mense van Willowmore was. En ja, sê sy, daar was baie meer Ingels gepraat in die dorp in daardie jare. Sy vertel hoe grênd party van die mense was - skoon upperclass. En name soos Clarks en Stokes en Friedmann rol van haar lippe af wat ook so half ’n stoutegheid in haar oë laat vonkel. Kinners kon in daai dae bene ‘verkoop’ wat hulle in die veld opgetel het, ja, meestal bokbene en dan word daar nou ’n pennie gegee vir die bene wat hulle aanbring. Met daardie pennie kon hulle dan weer vier (4) lekkers koop maar nie voordat die ou winkeleienaar hulle nie eers ‘uitjaag’ met “no sweets - no sweets today” nie. Maar hulle weet van beter…. sit daardie jammer gesiggies op en dan is daar toe al die tyd tóg swiets.
Met oë op skrefies praat sy van die sjokolade Pick & Mix. Top kwaliteit chocolate in ’n pick & mix bakkie, sommer ’n handvol, vir ’n tiekie. Sy vertel hoe haar pa vir ou Mr. Horwitz in sy stoor gewerk het en sy daar rondgespeel het. En dan dwaal haar oë na die denkbeeldige Vrydagmark in die dorp waar daar oorgenoeg groente om van te kies en te keur te koop was teen bekostigbare pryse en die lekkerste van alles vir haar, was die kissies druiwe.
Nouja, teen die tyd is tannie Joy ook moeg ge-onthou en ek besef daar is seker baie van u wat hierdie stories sal lees en met heimwee kan saam praat met tannie Joy. Maar net om mee af te sluit moet ek noem dat as daar gesing word in die eetsaal met biduur dan is daar een stem, alt en nog vol perfekte toon en melodie en dit is die sterk stem van hierdie ‘amazing’ tannie Joy.
Ons sien uit na nog Willowmore stories. Stories van gebore Willowmoreders soos tannie Juliette en stories van Inkommers wat Willowmore hulle dorp kom maak het. Die kleinkaroo sou brandarm gewees het sonder Willowmore, dis verseker.